Groot Nederlandse skrywer op pad
Willem de Vries
Kaapstad - Arnon Grunberg (40) is ’n ambivalente figuur in die Nederlandse letterkunde.
Hy reis die wêreld vol, maar woon en werk in hoofsaaklik New York. Hy is op 22 Februarie 1971 in Amsterdam gebore.
Hans Ester, ’n dosent in algemene kultuurwetenskap aan die Radboud-universiteit in Nijmegen, sê vernaam Grunberg se reisverslae het almal iets stouts.
“Die leser dink dat as hy in die wêreld op reis is (die Oekraïne en Wit-Rusland) dat hy in die verskriklikste bordele beland en daar nie heelhuids uitkom nie, maar die leser word altyd onkant betrap. Ek dink Grunberg speel voortdurend met identiteite. Jy kom nooit agter wie hy wesenlik is nie.
“Hy het die voordeel dat sy ouers Joods is. Hierdie agtergrond gee aan iemand in Nederland ’n soort kredietwaardigheid. Jy is dan by voorbaat interessant. Maar daar is wel ’n prys daaraan gekoppel. Talle lesers sal daardie identiteit aan hom vasmaak.
“Wanneer hy hom daarvan losmaak en daarmee speel, waardeer nie almal dit nie.
“Wat sy skryfstyl betref, is hy sonder twyfel begaaf.”
Die veelbekroonde Grunberg beskryf die belewenisse van sy helde met ’n soort literêre slapstick wat geskryf is in ’n eiesinnige styl (kort sinne, baie herhaling en hilariese pseudo-filosofieë) wat van hom die opvallendste jong skrywer van die 21ste eeu gemaak het. Só berig die Nederlandse gehaltekoerant die NRC Handels blad.
Grunberg het bekendheid verwerf toe hy as 23-jarige met die roman Blauwe maandagen (1994) gedebuteer het. Dit handel oor die wêreld van prostitusie en is in 13 tale vertaal.
Grunberg het daardie jaar die Nederlandse prys vir die beste debuutwerk ontvang. In 2000 het hy dié eerbetoon opnuut ontvang toe hy onder die skuilnaam Marek van der Jagt ’n roman gepubliseer het, naamlik De geschiedenis van mijn kaalheid. Hy is die eerste skrywer wat die prys twee keer ontvang het.
Hy het die prestigeryke Nederlandse Constantijn Huygens-prys vir sy oeuvre in 2009 ontvang.
Hy is ook ’n skrywer van toneelstukke en essays.
Sy mees onlangse roman heet Huid en haar.
In Nederland is hy ook bekend as rubriekskrywer vir onder meer dieNRC Handelsblad en de Volkskrant en die tydskrif Vrij Nederland. Hy dra gereeld tot letterkundetydskrifte by.
Grunberg tree by die volgende geleenthede op die Woordfees op:
.In Soete groete op 11 Maart om 19:00 tree hy op saam met T.T. Cloete, Joke van Leeuwen, Herman Bogaert, Heilna du Plooy en Diana Ferrus, met musiek deur Jak de Priester, asook Visfilmusic, met Hans Visser en Irena Filippowa. Die geleentheid is ’n spitbraai op die Bilton-landgoed. Dit kos R150 en wyn en ’n ete is daarby ingesluit.
.In Die groot vyf op 12 Maart om 11:00 lees hy uit eie werk voor, so ook André P. Brink, Elsa Joubert, Etienne van Heerden en Ingrid Winterbach.
Kaartjies kos R60.
Op 12 Maart om 09:00 tot 14:00 neem Grunberg deel aan ’n Neerlandistiekdag. Dit bestaan uit praatjies, onderhoude en lesings. Saam met hom tree Bogaert en Van Leeuwen op. Dit word in lokaal 693 van die Letteregebou in Stellenbosch aangebied. Kaartjies kos R50 en sluit ’n ligte middagete in.